15 May 2012

Hoe maak Oupa dan?

Dis nou mos 'n vraag om te stel nê?

Hoe maak Oupa dan; as Ouma en Oupa dan hoor kleinseun is heel moontlik een uit net 'n duisend in onse mooie land - een uit 'n duisend kinders in die hele mooie Suidafrika, wat 'n rare siekte het... 'n siekte wat mens sukkel om reg uitspraak voor te gee, wat nog om te verstaan!

Dis nou dié ding wat ek en vroutjie moes hoor van ons nuwe klein bondeltjie in onse lewens.
Steve en Jos het ons meegedeel dat Seth (kleinseun), hoewel nog skaars 6 maande oud, 'n goeie moontlikheid het dat hy Pompe siekte het. Nee... pompe soos in water óf diesel pompe nie... maar wel soos in "pompey" - dis hoe mens hom uitspreek. Ek sal dit maar so skryf sodat dit darem makliker leesbaar is - Pompé

Nou wat is dit dié, en wat beteken dit?
Toemaar; dis net die opervlakkige vrae wat begin ontstaan het. Ons het naderhand soveel vrae lat ons skoon vergeet van party van hulle.

Pompé is 'n siekte wat veral (óf dalk moet ek sê meestal) in klein kinders, jonges, van 'n paar maande oud, voorkom. Dit gebeur so min dat daar letterlik net so om en by duisend gevalle in SA is. Die tekens is veelvoudig, en kan aanduidings wees van ander dinge ook, maar as hulle saam in plek val, dan dui dit op Pompé. En die ergste van als... Pompé is lewensgevaarlik... tot so 'n mate dat daar nie 'n teëmiddel / oplossing daarvoor is nie. Die kleindingetjies sterf gewoonlik voor hulle 2 jaar oud raak!

Dus my vraag... "Hoe maak Oupa dan?"

Oupa is mos veronderstel om die sterke te wees... die familie kyk op na Oupa... veral as Oupa ook nog op 'n stadium 'n ouderling, dejaken óf prediker was! En dié was ek mos.

Seth John Oosthuizen
Nou toe.. wat sê julle?

Ek sal julle sê wat Oupa gemaak het.
Oupa en Ouma het gebid.. teruggekeer Pappa Vader toe. En ook vir ma en pa aangemoedig om só te maak.
Oupa se hart was vrek seer... kon nie eens dié met Ouma deel nie. Het gesukkel daarmee... oor die hele ding van "Hoe is ek veronderstel om nou op te tree terwyl my hart skeur?" Maar terselfdertyd het ek myself die vraag gevra, "Hoe voel Steve en Jos nie?"
Aai tog Pappa... hoekom? Daai vraag wat U so goed ken... soveel male al gehoor het, van hoeveel miljoene mense?

Maar tog in dié situasie is die Here se Woord altyd trou. Hy sê mos ons kry krag as ons ander ondersteun en opbeur. En dis toe net so. Ek't bemoediging ingepraat, in Seth se ore in, in Jos se ore in en in Steve s'n. Tyd gemaak om met hulle te gesels. Tyd gemaak om met Ouma saam te bid - sy's 'n liewe mens! 'n Gawe van Pappa af!
En ons saam het ook nog uitgevind oor dié ding wat dié liefdevolle kklein mensie aantas. Selfs Nadine het in diepte ondersoek ingestel - sommer die siekte as een van haar studietake aangeneem - en nog dié as 'n voorstelling aan haar klasmaats opgedoen.
So het ons almal meer geleer. So het ons ook mekaar onderskraag deur Seth se menige toetse en doktorsbesoeke.

En so het dit ook gebeur dat Ouma; terwyl sy inkopies gedoen het; op 'n speelstel afgekom het... vir 3 jariges en op... en deur bepeinsing en gebed, en glo ... die speelstel toe gekoop. Sy't geglo Pappa sal Seth vir ons gee nog verby 3 jaar oud!
En toe ek na werk by die huis aankom.. en ek sien die stel, en ek hoor haar storie... toe wat maak Oupa dan?

Oupa glo mos ook in Pappa Vader se enorme liefde en krag, en die feit dat Hy tot enigiets in staat is - veral vir sy kinders! Toe glo Oupa ook... net soos Ouma!




En vandag toe kry ons die nuutste toets uitslae...


Daar's g'n teken van Pompé in Seth se bloedmonsters nie!!!!!!!!!!!!!!!!

PRYS DIE HERE - ONSE PAPPA VADER!!!!!!!!!!!!!!!

Hoe maak Oupa dan?
Oupa buk laag voor 'n Almagtige God in diepe dankbaarheid.

Só maak Oupa.

No comments: